Ike Boss | Die nagmerrie van 'n DA/ANC koalisie

Ike Boss, ‘n kommunikasiepraktisyn van Kaapstad, bevraagteken die DA se bedoelings rakende die Veelpartyhandves, nadat hulle leiers die kans van 'n ANC-koalisie asem gee

Guest Author

By 

Guest Author

Published 

Apr 4, 2024

Ike Boss | Die nagmerrie van 'n DA/ANC koalisie

Dit is die kernbeginsel van die Veelpartyhandves om die ANC te oorwin, en hulle van die regering af te sit. Die vennote het skriftelik onderneem om geen ooreenkomste met die ANC of die EFF aan te gaan nie.

Op die 12 Maart het die DA-leier, John Steenhuisen, hierdie onderneming bevestig in antwoord op ‘n vraag uit die gehoor op die BizNews-konferensie: “Ek het [die versekering] reeds gegee. Dis wat die Veelpartyhandves-dokument sê – dat ons almal onderneem het om nie ooreenkomste met die ANC of EFF aan te gaan nie.”

Maar net twee weke later, op 26 Maart voor die Kaapse Persklub sê Steenhuisen dat hy “huiwerig” is om te antwoord of die DA ‘n koalisie met die ANC sal aanknoop, en dan op ‘n Mail&Guardian-podsending op 28 Maart noem Steenhuisen ‘n koalisie met die ANC die beste van die slegste opsies (“least-worst option,” in hulle woorde).

Sal die DA ‘n ooreenkoms met die ANC aangaan? Steenhuisen sê: Ons sal nie; ons is huiwerig; ons behoort, of iets in dier voge. Ten minste weet ons nou.

Die Veelparthandves sluit natuurlik slegs die ANC uit as die Handves ‘n meerderheid behaal. Slegs ‘n meerderheid verbind die partye na 29 Mei. Indien die Handves nié ‘n meerderheid kry nie, is die partye vry om onafhanklik op te tree.

ActionSA se voorstel dat die Handvespartye onderneem om nie ‘n koalisie met die ANC aan te gaan indien die Handves nie ‘n meerderheid behaal nie, is deur die lede verwerp. Aangesien mosies onder die Handves ‘n konsensus nodig het om te slaag, kan enige mosie verwerp word deur net een party.

Dit is moontlik insiggewend dat Steenhuisen nie na hierdie uitsondering verwys het in sy reaksie op die vraag uit die12 Maart-gehoor nie. Steenhuisen het bloot gesê dat die DA by die Veelpartyhandves se ooreenkoms sal hou – sonder om aan te dui dat ‘n minderheidsuitslag daardie ooreenkoms laat verval. Onvolledige inligting trek baie op leuenagtigheid.

Hierdie minderheidsreëling verskoon nie die DA se heen-en-weerdery oor die party se intensies na 29 Mei nie. Wat ook al die uitslag, kiesers behoort te weet of die DA ‘n koalisie met die ANC sal aangaan, of nie. Om kiesers in die duister te hou – maar net ‘n ander manier van lieg – is een ding; die meeste kiesers weet heimlik dat hulle belieg word. Maar om nie met jou vennote openhartig te wees nie is gans ‘n ander ding.

Daar is geen redelike kans dat die Veelpartyhandves op 29 Mei ‘n meerderheid sal behaal nie – niemand beplan vir só ‘n uitslag nie. Die DA gaan op 29 Mei ongetwyfeld die beste vaar van die partye wat teen RET en verwante identiteitsideologieë gekant is. 

Suid-Afrika het só ‘n DA-tipe regering nodig. Dit is Suid-Afrika se “least worst option”. Maar ‘n DA-regering kan net vertrou word as dit onderworpe is aan die oorsig van ander yedinomyshlenniki (Russies vir eendersdenkendes).

Oorsig deur die VF+ is nie voldoende nie – die VF+ hou, byvoorbeeld, ‘n gekompromitteerde DA-regering in, onder andere, die Distriksmunisipaliteit Tuinroete, en in Oudtshoorn aan bewind. Wyer oorsig is nodig: ActionSA; IVP; BOSA; Rise Mzansi, en ander.

Daarom is die enigste manier om ‘n “DA-tipe regering” wat goeie regering – nakoming, verantwoordbaarheid, en deursigtigheid – sal vestig aan bewind te kry, sónder die ANC, om vir ‘n ánder party as die DA in die Veelpartyhandves te stem.

Kiesers moet sorg dat die DA nie sterk genoeg is om ‘n aantreklike koalisie-kandidaat vir die ANC te wees nie. Indien kiesers nie strategies stem om te sorg dat die DA nie in die ANC-kooi klim nie, kan daar met net gehoop word dat die DA nie ‘n koalisie met die ANC sal aangaan nie. Hoop… hoop sit nie botter op jou brood nie.

Een van die belangrikste bydraes wat die DA se Handvesvennote kan maak, is om meer yedinomyshlenniki te werf – partye wat die DA nóóit sal kan betrek nie, meestal omdat die DA-brand vir hierdie “ander” eenvoudig walglik is.

ActionSA en die VF+ en die IVP, op die Handveskiesers se skouers, verdien ‘n kans om ‘n werkbare koalisie moontlik te maak; die DA kan nié, maar die DA is nódig. Indien hoop ‘n rol speel, is die hoop op ‘n onwaarskynlike dog moontlike regering sonder die ANC beter as die hoop op DA-invloed in ‘n regering wat steeds deur die ANC oorheers word.

Die oortuiging dat die DA darem ‘n beter ANC-opsie sal wees as die EFF of MK of beide, is verdag: In ‘n ANC-DA-koalisie gaan die DA ‘n baie junior vennoot wees.

DA-ministers en -adjunkte gaan departemente wat deur kaders bestuur word erf: ANC-spulletjies sal voortgaan in ‘n ANC-DA-koalisie, met die verswarende aspek dat daar dalk geredeliker weggekom sal kan word met ongerymdhede onder gekortwiekte DA-oorsig wanneer kaders hulle hande was in water met ‘n vlouerige blouerige kleurtjie.

'n Paar vrot appels in 'n vat varses is genoeg om die hele oes te bederf op die lang rit na Pretoria.

more articles by this author